Gaan na inhoud

Henriette Roland Holst

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Henriette Roland Holst
Portret van Roland Holst deur Michel de Klerk (1921)
Gebore
Henriette Goverdine Anna van der Schalk

(1869-12-24)24 Desember 1869
Noordwijk, Nederland
Sterf21 November 1952 (op 82)
Amsterdam, Nederland
Ander name
  • Henriette Goverdine Anna Roland Holst-van der Schalk
  • Jet
BeroepDigteres, aktivis
Politieke party
  • Sosiaal-Demokratiese Werkersparty (Nederland), Kommunistiese Party van Nederland, Kommunistiese Werkersparty van Nederland
EggenootRichard Roland Holst (trou 1896; dood 1938)

Henriette Goverdine Anna "Jet" Roland Holst-van der Schalk[1] (1869–1952) was 'n Nederlandse digteres en raadskommunis. Sy is benoem vir die Nobelprys in Letterkunde.[2]

Die digter Adriaan Roland Holst (1888–1976), "die Nederlandse Prins van Digters", was haar eggenoot se neef.

Vroeë lewe

[wysig | wysig bron]

Roland Holst is op 24 Desember 1869 in Noordwijk gebore. Sy het grootgeword in 'n welgestelde, liberaal-Christelike gesin. Haar ouers was die notaris Theodore Willem van der Schalk en Anna Ida van der Schalk-van der Hoeven. Roland Holst het vir vier jaar 'n kosskool in Velp bygewoon en Franse lesse in Luik ontvang.

Roland Holst het spoedig 'n talent as digteres ontwikkel. Sy het in 1896 met die kunstenaar Richard Roland Holst getrou, en was bevriend met die digter Herman Gorter, wat haar aangespoor het om Das Kapital deur Karl Marx te lees. In hierdie tyd het sy polities aktief begin word en haar loopbaan as skryfster op politieke –, geskiedkundige – en filosofiese gebied begin.

Poësie

[wysig | wysig bron]

Omstreeks 1890 het Henriette vir Albert Verwey ontmoet, wat saam met Willem Kloos een van die leiers van die Tagtigers was. Hulle was ook medestigters van die De Nieuwe Gids. In 1892 het sy die skilder Jan Toorop ontmoet. In haar eerste sonnette het sy oor Toorop en Verwey geskryf. Sy het in hierdie gedigte haar intense behoeftes as kunstenaar vertoon en meer presies: haar behoeftes as digteres.

Sosialisme

[wysig | wysig bron]
Borsbeeld van Henriette Roland Holst by die Lindenplein, Noordwijk

Roland Holst het op 27-jarige leeftyd aangesluit by die Sosiaal-Demokratiese Arbeidersparty van Nederland (SDAP). Sy het in die tyd lang nagte in rokerige sale omgegaan en ten gunste van werkers se ellendige lot petisies gelewer. Sy het mettertyd deel geword van die partyleierskap, en is in 1900 afgevaardig na die Tweede Internasionale. Tydens die konferensies van die Internasionale het sy in aanraking gekom met prominente marxiste soos Karl Liebknecht, Rosa Luxemburg en Leon Trotsky.

Anders as die meeste ander ortodokse Marxiste het sy nie dadelik oorgegaan na die Sosiaal-Demokratiese Party (SDP, later bekend as die Kommunistiese Party van Nederland (CPN)) nie. Teen die advies van Rosa Luxemburg was sy soms nie-partydig. Sy het in 1915 saam met 'n aantal SDAP- en SDP-lede die Revolutionair Socialistische Vereeniging gestig. Terwyl sy in die CPN was het sy haar aan die kant van Herman Gorter, Anton Pannekoek, en die links-kommunistiese faksie van die party geskaar.

Rode Jet (Rooi Jet, Roland Holst se bynaam) het ook 'n rol gespeel tydens die rewolusionêre onrus van November 1918. Op 13 November het sy saam met David Wijnkoop aan die hoof van 'n optog na die Oranje -Nassau-kaserne in Amsterdam gestaan om die broederskap met die hussars te vier. Ingryping deur die veiligheidsmagte het tot twee sterftes gelei; die enigste slagoffers van die "rewolusie wat nooit plaasgevind het nie". In 1927 het sy haar bande met die CPN verbreek.

Sy het later by die Kommunistiese Werkersparty van Nederland, 'n raadskommunistiese party, aangesluit.

1928–1952: Christelike sosialis

[wysig | wysig bron]

Henriette het verskeie diep insinkings beleef. Sy het aan depressie, anorexia, anemie en hartsiektes gely. Haar eerste gedigte het vir sosialisme voorspraak gemaak. Sy het onder meer die Nederlandse teks vir die lied "The Internationale" geskryf. Later het haar werk 'n meer godsdienstige karakter gekry. Sy het toneelstukke, biografieë (van Rousseau, Gandhi en Tolstoi), joernalistieke stukke en radiodramas geskryf.

Tydens die Tweede Wêreldoorlog was sy aktief betrokke in die Nederlandse versetbeweging en ook die redaktrise van die versettydskrif De Vonk, wat toe as De Vlam bekend gestaan het. Alhoewel sy 'n gegoede agtergrond gehad het was sy beslis nie 'n "salon-sosialis" of "limousine-sosialis" nie.

Aan die einde van haar lewe het sy haar biografie, Het vuur brandde voort, geskryf. Sy het op 21 November 1952 in die ouderdom van 82 in Amsterdam gesterf. 'n Borsbeeld van haar is in 1969 in Noordwijk onthul.

Werke

[wysig | wysig bron]

Versbundels:

  • het Jeugdwerk (1884–1892) (in 1969 gepubliseer deur Garmt Stuiveling).
  • Sonnetten en Verzen in Terzinen geschreven; oorspronklike uitgawe (grafika deur Richard Roland Holst en Scheltema Holkema's Boekwinkel, Amsterdam), 1896.

Politiese werk:

Frateco en la Vivpraktiko, vertaling van die werk van Henriette Roland Holst in Esperanto.
  • De groote spoorwegstaking, de vakbeweging en de SDAP, Den Haag 1903.
  • Algemeene werkstaking en sociaaldemocratie, Rotterdam 1906.
hierdie werk het in 1905 in Duits verskyn, met 'n inleiding geskryf deur Karl Kautsky.
  • De opstandelingen, Een lyrisch treurspel in drie bedrijven, Amsterdam 1910.
'n liriese werk oor die Russiese Rewolusie van 1905.
  • De philosophie van Dietzgen en hare beteekenis voor het proletariaat, Rotterdam 1910.
Aanvanklik in Duits gepubliseer, vertaal deur Sam de Wolff.
  • Revisionistische en Marxistische tactiek in de kiesrecht-beweging, Rotterdam 1910.
polemiek teen die revisionistiese sosialisme van Pieter Jelles Troelstra oor stemreg.
  • De strijdmiddelen der sociale revolutie, Amsterdam 1918.
  • De revolutionaire massa-aktie. Een studie, Rotterdam 1918.
  • De daden der Bolschewiki, Amsterdam 1919.
geskryf ter verdediging van die Bolsjewiste.
  • Verslag van het Derde Internationale Communistische Congres, 1921.
  • Uit Sowjet-Rusland, 1921.
beskrywing van haar reis na die Derde Internasionaal
  • Communisme en moraal, Arnhem 1925.
  • Kapitaal en Arbeid in Nederland, Rotterdam 1932.
  • Herman Gorter, Amsterdam 1933.
biografie van die Tachtiger Herman Gorter.
  • Rosa Luxemburg. Haar leven en werk, Rotterdam 1935.
biografie van Rosa Luxemburg.

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. sommige bronne spel haar naam as Henriëtte, met 'n umlaut, maar haar geboortesertifikaat gee haar naam aan sonder die umlaut, soos ook ander bronne. Haar noemnaam was Jet, en vanweë haar verhouding met die digter Adriaan Roland Holst is sy dikwels "Tante Jet" genoem.
  2. "Nomination Database". www.nobelprize.org (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 18 Mei 2018. Besoek op 19 April 2017.

Verdere leeswerk

[wysig | wysig bron]
  • Jaap van Praag (1911–1981) het die eerste biografie van Henriette Roland Holst geskryf.
  • Het leed der mensheid laat mij vaak niet slapen (1984) is 'n bundel deur Herman Schaap van Henriette Roland Holst se prosa met 'n inleiding en notas.
  • Elsbeth Etty – Liefde is heel het leven niet (1996). 'n Biografie van Roland Holst.

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]

Gedigte deur Henriette Roland Holst wat aanlyn beskikbaar is

[wysig | wysig bron]