Gaan na inhoud

Pous Leo X

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Pous Leo X
Geboortenaam Giovanni de' Medici
Pontifikaat begin 9 Maart 1513
Pontifikaat eindig 1 Desember 1521
Voorganger Julius II
Opvolger Adrianus VI
Gebore 11 Desember 1475
Florence, Italië
Sterf 1 Desember 1521
Rome, Italië
Ander pouse genaamd Leo

Leo X was die 217de pous van die Rooms-Katolieke Kerk van 1513 tot 1521. Hy was die laaste persoon wat nie 'n priester was nie toe hy verkies is. Hy is veral bekend weens die verkoop van aflate om die rekonstruksie van die Sint Pieterskerk te betaal en sy hantering van Martin Luther se 95 stellings. Hy was die tweede seun van Lorenzo de' Medici en Clarice Orsini. Sy neef Giulio di Giuliano de' Medici sou hom later opvolg as Pous Clemens VII.

Biografie

[wysig | wysig bron]

Pous Leo X[1] is gebore as Giovanni de' Medici die tweede seun van Lorenzo de' Medici op 11 Desember 1475 in Florence, Italië. Hy was van sy geboorte af bestem om die Kerk te dien. Op 14 Maart 1487 word hy ab "in commendam" van die ryk Benediktyner klooster Monte Cassino en op 24 September 1488 kry hy ook die klooster van Vallobrosan "in commendam". Op 9 Maart 1489 stel Pous Innocentius VIII hom aan as kardinaal-diaken van Santa Maria in Domnica. Op 23 Maart 1492 word hy toegelaat tot die kollege van kardinale. Na die dood van Lorenzo op 8 April 1492 en die dood van Pous Innocentius, bly hy by sy ouer broer Pietro in Florence totdat die Medici op 9 November 1494 deur 'n opstand uit Florence verdryf word. Hy reis na Duitsland, Nederland en Frankryk. Op 19 Mei 1500 keer hy terug na Rome en werk vir Pous Alexander VI en sy opvolger Pous Julius II. Op 1 Oktober 1511 word hy pouslike legaat vir Bologna. Op 9 Maart 1513 volg hy Pous Julius II op en word gekroon op 19 Maart 1513. Hy regeer tot sy dood op 1 Desember 1521 en word opgevolg deur Pous Adrianus VI. Die naam ‘Leo’ beteken 'Leeu'.

Pontifikaat

[wysig | wysig bron]

Oorlogvoering

[wysig | wysig bron]

Pous Leo X[2] het op 5 April 1513 by die Liga van Mechlin aangesluit saam met keiser Maximillian I, koning Ferdinand I van Spanje en koning Hendrik VIII van Engeland teen die Franse en die Venesiërs. Die Franse en Venesiërs word verslaan tydens die slag van Novara. Op 9 Desember 1513 bevestig die 5de Lateraanse konsilie die vrede met koning Lodewyk XII en maak sodoende 'n einde aan die skeuring van Pisa.

Terwyl die konsilie nog besig was met 'n nuwe kruistog en kerkhervormings, het die nuwe Franse koning Frans I probeer om Milaan en die koninkryk van Napels te herower. Pous Leo het 'n nuwe liga gestig met die koning van Spanje en om Engelse steun te verseker maak hy Thomas Wolsey 'n kardinaal. Frans I het Italië binnegeval en op 14 September 1513 wen hy die slag van Marignano. In Oktober sluit die pous vrede met die Franse.

Op 9 Desember 1516 word die pragmatiese sanksies van Bourges afgeskaf en die konkordaat tussen Leo X en Frans I word bekragtig. Die konkordaat sou van krag bly tot die Franse Rewolusie. Die Lateraanse konsilie eindig op 16 Maart 1517 en in dieselfde jaar begin die pous 'n oorlog teen die graaf van Urbino, Francesco Maria I della Rovere. Nepotisme het ook weer sy kop uitgesteek. Die pous se neef Giulio ( later Pous Clemens VII) word vise-kanselier van die Heilige Stoel. Die pous se jonger broer Giuliano en sy neef Lorenzo word Romeinse patrisiërs. Lorenzo word bewindhebber in Florence en Guiliano heerser van Parma, Piacenza, Ferrara en Urbino. Giuliano sterf egter in Maart 1516 en die pous dra al sy mag oor aan Lorenzo.

In Desember 1516 kry Pous Leo 150 000 dukate van koning Hendrik VIII van Engeland om hom aan te sluit by die verbond tussen Spanje en Engeland teen die Franse. Die oorlog duur van Februarie tot September 1517 en eindig in 'n oorwinning vir Lorenzo die nou graaf van Urbino word.

Planne vir 'n kruistog

[wysig | wysig bron]

Die oorlog teen Urbino het 'n krisis in die verhouding van die pous ten opsigte van die kollege van kardinale veroorsaak. Die kardinale het toenemend wêrelds geword sedert die tyd van Pous Sixtus IV. Leo het 'n mislukte komplot om hom te vergiftig gebruik om die kardinale by te kom. Hy het een tereggestel en verskeie ander gevange geneem. Op 3 Julie 1517 benoem hy 31 nuwe kardinale. Verskeie Romeinse adellikes en lede van ryk families is aangestel.

Leo wou ook die opmars van sultan Selim I stuit en het groot planne vir 'n kruistog gemaak. 'n Wapenstilstand is vir die Westerse wêreld uitgeroep en die Duitse keiser en die Franse koning sou die kruistog aanvoer. Engeland, Spanje en Portugal sou die vloot verskaf en die gesamentlike magte sou Konstantinopel aanval. Die pous se diplomasie het nie geslaag nie. Kardinaal Wolsey het bemiddel tussen Frankryk en Duitsland en die ingesamelde geld is vir ander doeleindes aangewend.

In 1591 het Hongarye 'n drie-jarige wapenstilstand met Selim I gesluit, maar sy opvolger Süleyman I, hervat die oorlog in Junie 1521 en op 28 Augustus 1521 word Belgrado verower. Die pous was baie bekommerd en het 30 000 dukate gegee om die Hongare te probeer help.

Die deel van die Griekse kerk wat aan Rome trou gebly het (die Unitariste) is baie goed deur Leo behandel. In sy bul van 18 Mei 1521 verbied hy Latynse priesters om dienste te hou en Griekse kerke en Latynse biskoppe om Griekse priesters te wy. Die reëlings is later versterk deur Pous Clemens VII en Pous Paulus III en het die verhoudings tussen die Griekse en Latynse dele van die kerk aansienlik verbeter.

Die pontifikaat van Pous Leo X is gekenmerk deur die opkoms van die Protestantisme. In 1517 spyker Martin Luther sy 95 stellings aan die kerkdeur in Wittenberg. Dit het vinnig geëskaleer tot 'n wydverspreide opstand teen die Kerk. Pous Leo het die beweging nie goed verstaan nie en in Februarie 1518 gee hy die owerste van die Augustyne opdrag om sy monnike die swye op te lê. Op 30 Mei 1518 stuur Luther 'n verduideliking van sy stellings aan die pous en op 7 Augustus word hy na Rome ontbied. Luther gaan egter na Augsburg in Oktober om die pouslike legaat kardinaal Cajetan te ontmoet. Op 9 November 1518 publiseer Leo 'n bul waarin alle Christene verplig word om te glo dat die pous aflate kan toestaan. Luther weier om sy standpunt te wysig. In nog 'n bul van 15 Junie 1520 word een-en-veertig van Luther se stellings veroordeel en op 3 Januarie 1521 word Luther geëkskommuniseer. Die pous vra ook die keiser om energiek teen die dwalinge op te tree.

Die pous se olifant Hanno

Laaste jare

[wysig | wysig bron]

Keiser Maximiliaan sterf in 1519 en pous Leo weifel tussen die kandidate. Eers steun hy Frans I, maar moet later Karel V aanvaar wat op 28 Junie 1519 verkies word. Leo wou graag Ferrara, Parma en Piacenza by die pouslike staat voeg, maar 'n poging om Ferrara te verower in 1519, misluk. In 'n alliansie met keiser Karel word Milaan deur die keiser verower en Ferrara, Parma en Piacenza deur pouslike troepe verower in November 1521.

Pous Leo sterf skielik aan malaria op 1 Desember 1521.

Die kollege van kardinale

[wysig | wysig bron]

Pous Leo X het 42 (dalk 43) kardinale aangestel in agt konsistories.

Die konsistorie van 23 September 1513

[wysig | wysig bron]
  • Lorenzo Pucci, biskop van Melfi.
  • Giulio de' Medici, kardinaal-nepoot, aartsbiskop van Florence (later Pous Clemens VII).
  • Bernardo Dovizi da Bibbiena, skatmeester-generaal.
  • Innocenzo Cibo, kardinaal-nepoot, apostoliese protonotarius.

Volgens Eubel in Herarchia Catholica Medii ei Recentoris Aevi en Cardella in Memorie storiche de' Cardinali della Santa Romana Chiesa is Pietro Quirini ook as kardinaal aangestel, maar nooit gepubliseer nie.

Die konsistorie van 10 September 1515

[wysig | wysig bron]
  • Thomas Wolsey, aartsbiskop van York.

Die konsistorie van 14 Desember 1515

[wysig | wysig bron]
  • Adrian Gouffier de Boissy, biskop van Coutance, Frankryk.

Die konsistorie van 1 April 1517

[wysig | wysig bron]
  • Antoine Bohier du Prat, aartsbiskop van Bourges.
  • Guillaume III de Croy, biskop van Cambrai, Frankryk.

Die konsistorie van 1 Julie 1517

[wysig | wysig bron]

Hierdie konsistorie het die grootste aantal kardinale aangestel totdat Pous Pius XII op 18 Februarie 1946 32 kardinale aanstel, Pous Paulus VI op 28 April 1969 34 en Pous Johannes Paulus II op 21 Februarie 2001 42.

  • Francesco Conti, biskop van Conza.
  • Giovanni Piccolomini, aartsbiskop van Sienna.
  • Giovanni Domenico de Cupis, aartsbiskop van Trani.
  • Niccolo Pandolfini, biskop van Pistoia.
  • Raffaele Petrucci, biskop van Grosseto.
  • Andrea della Valle, biskop van Mileto.
  • Bonifacio Ferrero, biskop van Ivrea.
  • Giovanni Battista Pallavicino, biskop van Cavaillon, Frankryk.
  • Scarmuccia Trivulso, biskop van Como.
  • Pompeo Colonna, biskop van Rieti.
  • Domenico Giacobazzi, biskop van Nocera dei Pagani.
  • Louis II de Bourbon de Vendôme, biskop van Laon.
  • Lorenzo Campeggio, biskop van Feltre.
  • Fernandino Ponzetti, biskop van Molfetta.
  • Luigi de' Rossi, kardinaal-nepoot, apostoliese protonotarius.
  • Silvio Passerini, apostoliese protonotarius.
  • Adriaan Floriszoon Boeyens (ook d'Edel), biskop van Tortosa (later Pous Adrianus VI).
  • Tommaso Vio, generaal van die Orde van die Benediktyne (O.P.).
  • Egidio di Viterbo, generaal van die Orde van die Augustyne. (O.E.S.A).
  • Cristoforo Numai, generaal van die Orde van die Franciskane (O.F.M. Obs.).
  • Guillén-Ramón de Vich y de Vallterra, apostoliese protonotarius.
  • Franciotto Orsini, priester van Rome.
  • Paolo Emilio Cesi, apostoliese protonotarius.
  • Alessandro Cesarini senior, apostoliese protonotarius.
  • Giovanni Salviati, apostoliese protonotarius.
  • Niccolo Ridolfi, apostoliese protonotarius.
  • Ercole Rangone, apostoliese protonotarius.
  • Agostino Trivulzio, apostoliese protonotarius.
  • Francesco Pisani, apostoliese protonotarius.
  • Alfonso van Portugal, vierde seun van koning Manoel van Portugal, apostoliese protonotarius.

Die konsistorie van 24 Maart 1518

[wysig | wysig bron]
  • Albrecht von Brandenburg, aartsbiskop van Magdeburg en Mainz.

Die konsistorie van 28 Mei 1518

[wysig | wysig bron]
  • Jean de Lorraine, biskop van Metz.

Die konsistorie van 9 Augustus 1520

[wysig | wysig bron]
  • Eberhard von der Mark, biskop van Chartres.

Bulle, Ensiklieke en Dekrete

[wysig | wysig bron]

15 Junie 1520 – Exsurge Domine – Veroordeling van Martin Luther.

Bul met ekskommunjkasie van Martin Luther

3 Januarie 1521 – Decet Romanum Pontificem – Ekskommunikasie van Martin Luther.

Bibliografie

[wysig | wysig bron]
  • Duff, Eamon (2001). Saints and Sinners: A History of the Popes, Yale University Press. ISBN 0-300-09165-6.
  • Maxwell-Stuart, P. G. (2002). Chronicle of the Popes: The Reign-by-Reign Record of the Papacy from St. Peter to the Present, Thames & Hudson. ISBN 0-500-01798-0.

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. Leo X. (2008). Encyclopædia Britannica. Deluxe Edition. Chicago: Encyclopædia Britannica.
  2. Löffler, K. (1910). Pope Leo X. In The Catholic Encyclopedia. New York: Robert Appleton Company. Besoek September 28, 2009 by: http://www.newadvent.org/cathen/09162a.htm

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]
Wikisource
Wikisource
Die Engelse Wikisource bevat bronmateriaal oor hierdie onderwerp onder die titel:
  • BBKL Inskrywing (met Literatuurverwysings) in die Biographisch-Bibliographisches Kirchenlexikon (Duits)
  • PTA Inskrywing in "Popes through the Ages" deur J. Brusher S.J. (Engels)
  • Bulle 'n Databasis van pouslike ensiklieke, dekrete en bulle (in Engels)

Saamgestel en vertaal uit die Nederlandse, Engelse, Duitse en Franse wikipedia en aangevul uit ander bronne soos aangedui.

Opvolging

[wysig | wysig bron]
Voorafgegaan deur
Julius II
Pous (Pontifex Maximus)
1513 – 1521
Opgevolg deur
Adrianus VI

Basis URL: en:Pope Leo X