Gaan na inhoud

Nedersetting

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Die nedersetting Flora in Oregon, VSA.
Verlate geboue in Kolmanskop, Namibië.

'n Nedersetting of lokaliteit is 'n plek waar 'n groep mense (tydelik of permanent) woon of, in die verlede gewoon het. Dit sluit gehuggies, dorpe, buurte, stede en metropole in, ongeag van grootte of belangrikheid daarvan. 'n Nedersetting sluit ook die opgeboude infrastruktuur, soos huise, kerke, paaie, parke, damme en so meer in.

Mense het al van die vroegste tye in groepe saam gewoon. Nedersettings ontstaan gewoonlik op plekke waar voldoende hulpbronne soos vars water en voedsel beskikbaar is. Veiligheid het in die verlede 'n groot rol gespeel omdat die gemeenskap in 'n nedersetting hulself makliker teen natuurlike vyande (roofdiere) en ander vyandige groeperinge kon verdedig. Ekonomiese belange speel deesdae die oorwegende rol. So ontstaan myndorpe waar minerale ontgin kan word, hawestede en vissersdorpe langs die kus en vakansiedorpies naby mooi natuurskoon.

Soms woon mense in groot groepe saam en ander kere in kleiner groepies. Dorpe ontstaan gewoonlik op die platteland as 'n groepering van huise en winkels ('n landelike nedersetting). Met die ontdekking van goud en diamante en die aanbreek van die industriële revolusie het die bevolking van 'n landelike na 'n stedelike leefwyse oorgeskakel. Soos die plek groei kan dit later in 'n groot dorp of selfs 'n stad ontwikkel (stedelike nedersetting). Stede kan later verder uitbrei en aan mekaar "vasgroei" om metropolitaanse gebiede te vorm.

Soos 'n nedersetting groei neem nie net die aantal bewoners toe nie, maar ook die infrastruktuur en dienste wat beskikbaar is. 'n Dorpie kan dalk 'n dokter en tandarts hê, maar spesialiste word gewoonlik uitsluitlik in stede aangetref. Stede geniet ook vinniger internet-toegang en ander meer gespesialiseerde dienste.

Soorte nedersettings

[wysig | wysig bron]
Myndorpe
Ontstaan naby 'n plek waar minerale ontgin word, soos Johannesburg (goud), Phalaborwa (koper), Kimberley (diamante), Welkom (goud), Thabazimbi (ystererts) en Witbank (steenkool). Pelgrimsrus is 'n gerestoureerde, historiese myndorpie.
Vakansiedorpe
Die plekke het hul bestaan te danke aan pragtige natuurskoon of ontspanningsaktiwiteite wat toeriste lok, soos Knysna, Plettenbergbaai, Bela-Bela en Margate.
Nywerheidstede
Ontstaan as gevolg van fabrieke, soos Vanderbijlpark en Sasolburg.
Hawestede
Hawestede bied op- en aflaaipunte vir goedere per skip, soos Durban, Kaapstad en Richardsbaai.
Handel en vervoer
Die dorpe of stede ontstaan langs hoofspoorlyne en grootpaaie. Germiston op die Witwatersrand het ontwikkel waar spoorweë van die kus en hawens af saamgekom het. De Aar in die Bo-Karoo het ontwikkel waar verskeie spoorlyne kruis. Bitterfontein in Namakwaland het ontstaan waar die spoorweg eindig en waar oorgeskakel moes word van spoorvervoer na padvervoer.
Opvoedkundig
Universiteite en skole is hier geleë en lok studente en leerkragte, soos Stellenbosch, Grahamstad en Potchefstroom.

Landelik

’n Landelike gebied word as platteland beskou, buite stede en dorpe waar die meeste mense bestaansboerdery voer en hul produkte onderling verkoop. Plase en boeredorpies val onder landelike nedersettings.

Sien ook

[wysig | wysig bron]
  • Écart, klein soort nedersetting in landelike dele van Frankryk.
  • Dorp, 'n klein nedersetting in 'n landelike area wat kleiner as 'n stad is.
  • Stad, 'n groter, gesentraliseerde en afgebakende nedersetting wat 'n besondere administratiewe, regtelike of geskiedkundige status geniet.