Koraalsee
Koraalsee | |
---|---|
Nasa-Satellietbeeld van die Groot Koraalrif in die Koraalsee | |
Kaart van die Koraalsee | |
Koördinate: | 18°S 158°O / 18°S 158°O |
Ligging: | Australië, Nieu-Kaledonië (Frankryk), Papoea-Nieu-Guinee, Salomonseilande, Vanuatu |
Soort: | See van die Stille Oseaan |
Oppervlakte: | 4 791 000 km² (1 850 000 myl²) |
Gemiddelde diepte: | 2 394 m (7 854 vt) |
Maksimum diepte: | 9 140 m (29 990 vt) |
Volume: | 11 470 000 km³ |
Invloei: | Fly |
Eiland/e: | Koraalsee-eilande, Nieu-Guinee, Nieu-Kaledonië, Salomonseilande, Vanuatu |
Nedersettings: | Brisbane (Australië) Port Moresby (Papoea-Nieu-Guinee) |
Die Koraalsee (Engels: Coral Sea, Frans: Mer de Corail) is 'n see aan die rand van die noordoostelike kus van Australië. Dit word begrens in die weste deur die ooskus van Queensland en sluit daarmee saam die Groot Koraalrif in, in die ooste deur Vanuatu en Nieu-Kaledonië en die noorde deur die suidelikste deel van Papoea-Nieu-Guinee en die Salomonseilande.[1] Die Koraalsee grens aan die Salomonssee in die noorde en die Tasmansee in die suide. Die Koraalsee word deur die Torres-straat met die Arafurasee in die noordweste verbind. Die see het 'n oppervlakte van sowat 4 791 000 km².[2]
Die Internasionale Hidrografiese Organisasie beskou die seegebied oos van die Australiese deelstate Nieu-Suid-Wallis, Victoria en Tasmanië as deel van die Tasmansee, terwyl die seegebied oos van Queensland deel van die Koraalsee uitmaak. Die grens tussen Nieu-Suid-Wallis en Queensland dui ook die grens tussen die twee seë aan.
Die belangrikste rivier wat in die Koraalsee uitmond is die Fly. Die belangrikste nedersettings aan die see is Brisbane, die hoofstad van die Australiese deelstaat Queensland en Port Moresby, die hoofstad van Papoea-Nieu-Guinee.
Terwyl die Groot Koraalrif met sy eilande en kaaie aan Queensland behoort, is die meeste riwwe en eilandjies ten ooste daarvan deel van die Koraalsee-eilande se gebied. Verder is sekere van die eilande wes van en wat aan Nieu-Kaledonië behoort ook deel van die Koraalsee-eilande in 'n geografiese sin, soos onder andere die Chesterfield-eilande en die Bellona-riwwe.
Die Koraalseekom is sowat 58 – 48 miljoen jaar gelede gevorm toe die Queensland kontinentale plaat opgelig is en sodoende die Groot Skeidingsgebergte laat ontstaan het.[3]
Die Koraalsee is ekologies gesproke 'n belangrike bron van koraal vir die Groot Koraalrif.[4]
In die geskiedenis
[wysig | wysig bron]Die Slag van die Koraalsee het tydens die Tweede Wêreldoorlog hier plaasgevind.
Verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ (en) Sector 6 – Chart Information
- ↑ "Coral Sea" (in Engels). Encyclopædia Britannica. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 12 Mei 2020. Besoek op 31 Julie 2017.
- ↑ (en) Hopley, David; Smithers, Scott G.; Parnell, Kevin E. (2007). The geomorphology of the Great Barrier Reef : development, diversity, and change. Cambridge : Cambridge University Press. p. 19. ISBN 0-521-85302-8.
- ↑ (en) Hopley, David; Smithers, Scott G.; Parnell, Kevin E. (2007). The geomorphology of the Great Barrier Reef : development, diversity, and change. Cambridge : Cambridge University Press. p. 27. ISBN 0-521-85302-8.
Bronne
[wysig | wysig bron]- (en) Community monitoring of reef sharks in the Coral Sea and Great Barrier Reef, Australia (2008) Australian Underwater Federation
Eksterne skakels
[wysig | wysig bron]- Wikimedia Commons het meer media in die kategorie Koraalsee.